Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 17 JUNIE 2007

U luister na amateurradiostasie ZS6SRL van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. U kan ook na hierdie oggenduitsendings luister deur per Echolink met ZS6FCS te koppel. U kan ook na www.sarl.org.za gaan en op ARMI klik en die daar aangeduide skakels volg om oudio daarvandaan te ontvang. Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van die SARL se webwerf nl. www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

Hierdie uitsending word gedoen deur George, ZS6NE, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400 14,235, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos nodig).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons dit afsterwe van Robert Mansfield, ZS5RB, op Saterdag 9 Junie 2007 moet aankondig. Robert was 94 jaar oud. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:

TWEE YAESU VX-2R 2 m / 70 cm DRAAGBARE SENDONTVANGES OM TE WEN

VOLGENDE ZU-EKSAMEN OP 23 AUGUSTUS

GROOT UITGAWE VAN RADIO ZS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir die volledige berigte oor die voorgenoemde items, sowel as ander belangrike en interessante berigte.

TWEE YAESU VX-2R 2 m / 70 cm DRAAGBARE SENDONTVANGES OM TE WEN TYDENS SARL KOMPETISIES

SARL-BHF-Bestuurder, Piet Badenhorst, ZS6PJB, het aangekondig dat die wenners van twee kompetisies gehou te word 24 Junie en die naweek van 21 – 23 September ‘n Yaesu VX-2R 2 m / 70 cm mikro-handdraagbare send/ontvanger sal ontvang.

Die eerste kompetisie is die SARL digitale kompetisie op 24 Junie vanaf 13:00 UTC tot 16:00 UTC op die 40, 6 en 2 meterbande. Die tweede kompetisie is die SARL BHF/UHF-kompetisie wat plaasvind oor die naweek van 21 to 23 September.

Die SARL digitale kompetisie word geborg deur die Lichtenburg Amateurradioklub en die doel is die bevordering van die gebruik van PSK in Suid-Afrika en ook om soveel moontlik kontakte tussen radioamateurs in Suid-Afrika te maak.

PSK is die afkorting vir Phase-shift keying. Dit is ‘n digitale modulasieskema wat data oordra deur die fase van die dragolf te verander of te moduleer. Wat het jy nodog om te begin? Die eerste stap is om die nuutste uitgawe van PSK31 af te laai by http://aintel.bi.ehu.es/psk31.html, installeer dit en lees die omvattende hulplêers. Die webwerf gee ook ‘n volledige verduideliking van hoe jy te werk gaam om jou radio en rekenaar te koppel.

Om meer oor die kompetisiereels te lees, laai die kompetisiehandboek af vanaf www.sarl.org.za. Jy sal die besonderhede van die digitale kompetisie op bladsy 8 kry.

"PSK is ‘n interessante modus,” het Piet Badenhorst SARLNuus vertel. "Dit word beskou as die opvolger van RTD. Ek moedig radioamateurs wat nognie in digitale kommunikasie betrokke is nie, om reg te maak vir die kompetisie op 24 Junie. Miskien is die beste rede om dit te doen die feit dat dit niks kos nie, en slegs ‘n paar komponente uit die rommelkas word benodig vir die kopplevlak tussen die radio en rekenaar.”

Die Yaesu mikro miniature 144/440 MHz handdrastel het ‘n wye ontvangsfrekwensiebestek wat plaaslike tweerigtingkommunikasie verskaf met unieke moniteringsvermoë. Dit is die wêreld se kleinste HT met 1,5 / 1 watt uitsetkrag. Die ontvangsbestek is 500 kHz tot 999 MHz (sellulêr uitgesluit). Dit beteken jy kan na die AM-, kortgolf- en FM-uitsaaibande, TV oudio, vliegtuig- en openbaredienstekanale luister. CTCSS/DCS met splittoonvermoë is in gebou. Kobus Conradie, ZS1DC / ZS6UZ, van LetsPlayRadio het die send/ontvangers vir die kompetisies geskenk.

VOLGENDE ZU-EKSAMEN OP 23 AUGUSTUS

’n Tikfout het in verlede week se SARLNuus oor die volgende ZU-eksamen voorgekom. Die eksamen vir die beginnersvlaklisensie vind op Donderdag 23 Augustus plaas. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Julie 2007.

GROOT UITGAWE VAN RADIO ZS OP PAD NA JOU

Die volgende uitgawe van RADIO ZS is op Vrydag 15 Junie gepos en sal lede in die komende week bereik, dit is ook beskikbaar vir lede vir aflaai vanaf www.sarl.org. Die uitgawe het ‘n reeks interessante artikels wat begin met Dave Ingram, K4TWJ, se "Ham Pride - our legacies and traditions”.

Hannes Enslin, ZS6JDE, se interesante artikel oor AMA vir Afrika is ‘n moet om te lees. “Texting with Eagle” handel oor ‘n SMS-tipe fasiliteit wat ingesluit word by AMSAT Noord-Amerika se Eagleprojek.

Chris Gryffenberg, ZS6COG, gee ‘n oorsig oor die “RigExpert Standard Digital Modes Interface” wat beskikbaar is vir digitale modusse en algemene send/ontvangerbeheer. Hy deel sy ondervinding met jou oor die aankoop en opstel van die Rig Expert.

Die “Quickie Beam” deur Al Akers, ZS2U, is die ideale artikel vir die nuweling by amateurradio wat graag ‘n maklike en goedkoop antenna wil bou, of vir die amateur wat sukkel om die plaaslike herhaler te bereik met ‘n gewone vertikale antenna.

Eddie Leighton, ZS6BNE, vra die vraag in sy artikel oor digitale modusse “is daar ‘n toekoms vir amateurradio?” Daar is ook museumnuus, padvindernuus en alles oor QSL-kaarte. Moet nie hierdie uitgawe van Radio ZS misloop nie.

Baie dankie aan die lede van die Boland ARK wat gehelp het om Radio ZS in die koeverte te plaas en die adresplakkers op te plak.

As jy iets interessant het om mee te deel, skryf dit neer vir Radio ZS en stuur dit aan Dennis Green, ZS4BS. Sy e-posadres is zs4bs@netactive.co.za of radiozs@sarl.org.za. Van nou af word Radio ZS elke tweede maand uitgegee, so daar is meer om te lees vir jou lidmaatskap van die SARL.

DX OPNAME

Die sluitingsdatum vir die Suider-Afrikaanse DX-opname is Saterdag 30 Junie 2007. Die opname kan van die SARL-webwerf afgelaai word, na voltooiing stuur dit aan zs4bs@netactive.co.za. Vyftien opnames is alreeds ontvang.

Ook beskikbaar op die SARL-webwerf is DX Tracker V5, ‘n dokument in MS Excel geskep deur Tjerk, ZS6P, wat jou help om rekord te hou van DXCC-entiteite gewerk en bevestig.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteit sal wissel tussen laag en baie lae vlakke. Die verwagte geomagnetiese veld sal stil wees met moontlike onrustige tot lae stormvlakke gedurende 19 tot 22 Junie. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 en 40 meter is die beste keuse vir DX met moontlike 20 meter openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Na Australië toe kan 20 meter om 07:00 oopmaak. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20 meter openinge na Europa. Om 16:00 is daar moontlike kort 20 meter openinge na die weskus van die VSA. Andersins gaan kontakte met die Verenigde State baie uitdagend wees. Vir die morsekode- en digitale entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Dit is nou weer die tyd om saans kontakte te maak vir jou 80 meter WAZS-toekenning. Onthou dat HF jou nog steeds altyd kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

24 Junie – SARL Digitale Kompetisie;
30 Junie - Sluitingsdatum vir SA-DX-opname; ZS6PTA Mega Vlooimark;
1 Julie – Presidentsnet en Integnet;
23 Augustus - Klas B RAE;
18 Oktober - Klas A RAE.

SARLNuus wens alle vaders ‘n gelukkige vadersdag toe.

Sarlnuus maak staat op nuusitems wat vir radioamateurs van belang is en deur klubs en individue ingestuur word. Die enigste manier om te verseker dat u berigte Sarlnuus bereik is om dit in die korrekte plek op die webwerf van die SARL nl. www.sarl.org.za/newsinbox.asp te plaas nie later nie as die Donderdag wat die bulletin voorafgaan. Dit sal waardeer word indien u dit in Afrikaans sowel as Engels sal doen.

Die SARL nooi ook alle luisteraars om elke Sondagoggend om 10:00 SAT na die program Amateur Radio Mirror International op 145,750 MHz in die Pretoriagebied, en op verskeie ander herhalers, en met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 695 kHz, te luister. Oudiostrome is ook vanaf www.zs6mrk.org sowel as per Echolink vanaf ZS6FCS, soos vir hierdie bulletin, beskikbaar. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Telkom en Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel en vertaal is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003